Herinneringe van ‘n dogter

‘n Boorling van die Oos-Vrystaat, sy het opgegroei, is getroud en het haar gesin gebou in Warden, ‘n klein dorpie langs die N3. Dogter van Chris en Raaitjie Memorial Tribute to Raaitjie Schutte (Maria Magdalena) née Engelbrecht, met boeties Johan en Hennie, en sussies Marlene, Thelma en Christa.
Sy was met Wally getroud, en hulle het ‘n enigste dogter, Jeanné, gehad.

Met ‘n sterk sin vir besigheid en ‘n kop vir syfers het sy in haar ouers se voetspore gevolg en die leisels van die familiebesigheid, CE Schutte Algemene Handelaar, oorgeneem. Vir meer as 20 jaar het sy die besigheid met ‘n sagte hand (maar ook met ‘n ferm stem as dit nodig is!) grootgemaak en versorg soos haar ander kind. Die winkel het almal ingenooi, die kliënte het kom groet, almal het haar geken.
Bethenry, die plasie buite die dorp, was die Eden, die toevlugsoord. Beeste, skape, Prins die perd, mielies op die lande, grasvelde.. sy’t altyd gaan stap in die veld, vir ure, haar “happy place”.


Trots.. jy kon haar altyd deur ‘n ring trek, ‘n raakvatter, planmaker, vuurvreter, passievolle ma-vriendin-sielsgenoot, altyd empatie met ander, altyd vriendelik, altyd betroubaar, haar lewenspad gestap saam met haar Hemelse Vader, wat ‘n voorbeeld was sy nie!
Sy was baie lief vir drukkies: stywe drukkies en gedurige drukkies. “Gimme a hug” was ons ma-dogter liefdestaal, partykeer sommer in die verbyloop, daar was nooit ‘n slegte tyd vir ‘n drukkie nie.
Sy’t gehou van die oop pad in ‘n vinnige kar met die musiek kliphard: Laurika Rauch, Kimera – The Lost Opera, Stevie Nicks & Fleetwood Mac, Boney M vir Kersfees, BZN & Tracy Chapman, haar musieksmaak was wyd maar hoe lekker kon sy saamsing!
Mooi aantrek, macaroni & kaas soos net sy dit kon maak, chappies (maar net die geles), wilson toffees (die “original”-een), perculator koffie met ‘n “wolkje” (druppel) melk, spotprente teken (hoe kunstig was sy nie!), rondawels vou uit telefoonboeke, haar prente vernis op hout, haar kreatiwiteit kon jy lees in haar tuin, in haar huis, in haar lewe.


Sy was nie bang vir ‘n leeu of ‘n slang, maar onverklaarbaar vreesbevange vir ‘n muis.. dit was daai stert, o daai stert!
Sy’t ook gladnie van foto’s gehou nie, dit was met baie moeite en mooipraat dat sy stilgestaan het voor ‘n kamera.
Haar liefde en geduld met diere was onvoorwaardelik, elke troeteldier spesiaal. So was daar Noddie die maltees wat toe-ogies kon maak met haar voorpootjies, Stoffel die boerboel kon in die rondte tol & rol, Butchie die skottie het sokker gespeel, Jimmy Brown die siamees wat gedurig vir sy nooi ‘n muis gevang en versigtig voor haar kom neerlê het..
Sy het baie hard teen borskanker baklei, sy was altyd so positief!, maar die siekte het na drie jaar die oorhand gekry en ons moes haar groet. Te gou.
Tot ons weer ontmoet, Moeks. Love you.

My Meester het my in ‘n tuin vol blomme ingelei,
van allerhande soorte daar gewys aan my.
Toe sê Hy my: Sien jy, my kind, daar’s dié van hulle
wat ek moet pluk sodra hulle oop wil gaan,
sodat hulle op hul mooiste binne-in My huis kan staan.
Kyk, ander is daar weer met wie Ek moet wag
tot hulle in volle bloei is, vir My huis se prag.
So pluk Ek self dan elke blom
net op die regte tyd,
want’k plant hul nie vir hierdie aarde
maar vir My ewigheid.
Ds G S Moller

Stuur vir my ’n foto
Song by Laurika Rauch
Stuur vir my ‘n foto, ‘n duidelike beeld
Van die plooitjies om jou oë onder andere
Maak vir my ‘n afskrif van die drome in jou hande
En die skewe, halwe glimlag om jou mond
Probeer ten minste vaspen, ‘n bietjie van die aard
Van die dinge wat jy liefhet en onthou
‘n Mens is tog so gou geneig om maklik te vergeet
‘n Foto keer dat die tyd verweer
Stuur vir my ‘n foto, ‘n duidelike beeld
Van die sprokies en die spoke van jou lyf
En die roering van jou palms en die hartklop in jou are
En jou stiltes en jou lag en selfs jou huil
Probeer ten minste vaspen, ‘n bietjie van die aard
Van die dinge wat jy liefhet en onthou
Soos ons ernstige woorde oor die dinge van belang
Wat nou reeds stom in gange hang
Stuur vir my ‘n foto, ‘n duidelike beeld
Van ‘n plek waar ons al saam was, of heen wou gaan
Dalk ‘n horison, ‘n waansin, ‘n hawe of ‘n bos
Onthou jy nog hoe ver wou ons nog reis
Probeer ten minste vaspen, ‘n bietjie van die aard
Van die dinge wat jy liefhet en onthou
‘n Mens is tog so gou geneig om maklik te vergeet
‘n Foto keer dat die tyd verweer
Stuur vir my ‘n foto, ‘n duidelike beeld
Van die plooitjies om jou oë onder andere